Monday, April 24, 2023

dit is hoe ons kies

     vir Portchie

o februarie jou mooi en warm ding!
ek gly diep binne in jou murg
daar waar die werwels van somer spruit
ek sny my hande diep in die seisoen se lieste
en ruik die beurende vrugbaarheid

die oseaan is koel marmer vandag
ek dans oor die strandpaaie
met hande wat soos hibiskusse blom

die digkuns rinkink al agter my aan
vir 'n verandering is ek voor die digkuns die pad af
my tone proe die verslustige velde
lank voordat hulle in woorde ontkiem

dit is hoe ek en jy kies om hierdie dae te leef:
duikend, dansend en verwend in elke nuwe nou

 - Lara Kirsten

No comments:

Post a Comment