Friday, May 19, 2023

klawer-aarde 

        vir my Feetjie-Fiona & Abs van Rooyen


ek het nooit grond besit
maar vandag met my vingers al hangend oor die klaviatuur
voel ek hoe dit is om
n stukkie aarde myne te kan noem
n stukkie swart en wit klank-grond
wat ek met die dieptes en hoogtes op en af kan klim

hoe baie klaviere het al onder my hande gegaan
onder my palms gesing
gebrand gevloei gevlieg
maar dan moet ek gou koebaai sê
want hulle was nooit myne nie

maar hier staan my eie klavier nou haar stewige staan in my see-huisie
is dit hoe dit voel om
n stukkie aarde te besit?
n stukkie woud?
n stukkie wind?
n stukkie oseaan?
n stukkie oase?

ek sien uit na die trillende horisonne wat deur die snare gaan oopbreek
die getye van melodie
ë wat die mure gaan afbreek
en die sterrehemel van die harmonie
ë
wat in my hart gaan inbreek
ek sien menigte klein oerknalle wat die punte van my vingers gaan lostoor!

maar vir nou,
buig ek neer voor hierdie klawer-aarde
en ek sê dankie  dankie   dankie

 - Lara Kirsten

 

No comments:

Post a Comment