ek wil 'n gedig skryf
wat soos Escher
jou kop en lyf laat dryf
op met die trappe af
wanneer jy dink jy rym na regs
gooi hy jou radar na
links
jy dink jy het gaan visvang
en nou sit daar 'n voël in jou net
die dubbeldwarsterugspieëling van metafore
die interweef van dimensies
kruisbestuif die oorvleueling van persepsies
en soek nie om die positiewe van die negatiewe te onderskei
hulle is gesmelt in dieselfde gesig van die munt
'n gedig met geen begin of einde
'n oneindigende verdraaiing en intolling van
'n duisend digtersharte
wat jou dieper en vlakker
verder en nader bring aan die perspektief
jy bly jou inasem uitasem
terwyl jou vryheid verstrengel lê in
die labirintynse arms van hierdie vers
- Lara Kirsten
No comments:
Post a Comment