Monday, August 23, 2021

Boomkerk

    Eikeboom in die tuin van die Moederkerk, Stellenbosch

ek sit hier by my Boomkerk
die lig wat deur die nuutoopgevoude blare breek
is die geruite vensters wat alle goddelikheid vertaal
die knewel van 'n boomstam is
God se bobeen wat sonder swik of swig
sy goddelike staan staan
die juigende takke is die kerkbankies waarop
die voëls lofliedere tot die hemele sing
die wortels is die geloof wat in
onsigbaarheid die goddelikheid vasanker

o Boomgod, jou asem blaas die wêreld aan die lewe
jou groen mantel pomp kleur in ons anemiese siele
jou takke-prag ken geen argitektoniese perke
jy is milddadig in jou genade
en verrykend in
jou standvastige omarming

o Boomgod, wees my genadig
in die tye van my ongenade

 - Lara Kirsten

No comments:

Post a Comment