verbly
die spektrale kariljon bly in my ore lui
lui alle klaagliedere uit die pen uit!
laat ek die filigraan idée fixe vasvang
en dit opklits tot een pronkende pou
dit sal die poppemeesters verbly
dit is hartverskeurend hoe grootbekke
hoogty vier in hierdie wêreld
ek skaar my maar by die sonskyn
om my sin van standvastigheid te gee
ek nooi die malvablomme en
die tarentale om saam met my
in die voortuin piekniek te hou
soos ‘n taksonoom
vat ek die dooie gedig
en stop dit op
plak met bewende vingers
sy smotsige vere in deurmekaar metafore vas
en hoop die wêreld sien
nie sy onpolsende hart raak nie
No comments:
Post a Comment