ek sit op 'n skilferende creosote
bankie in Nature's Valley
die goue gedenkplaatjie op die
rugkant lees:
Die Muller familie - 4 geslagte
soos my tone oopsprei tussen die pers vygies
sing ek 'n sagte lied
ter herinnering aan die Mullers
my oog korrel na 'n by wat holomhoog
in 'n bos stuifmeeldrade skrop en
suig
en krap en beur en stoot
ek gaan af op my knieë
- ek self holomhoog -
om die aksie van naderby te bekyk
hoe langer ek kyk
hoe meer blomme en bye merk ek op
bye wat verwoed mekaar uit blomkele
stoot
groot korrels geel stuifmeel
klou taai
aan spartelende beentjies
instinktiewe verpligting
vreugde
oorlewingswaansin?
wat dryf die bye tot hierdie
onophoudelike soeke, versameling,
korwe bou
en die magiese heuningalchemie?
- Lara Kirsten
Baie goeie gedig. Die metafore is perfek. Welgedaan, Lara!
ReplyDeleteSelwyn, dankie vir jou komplimente!
DeleteGroete
Lara