Wednesday, September 2, 2015

V

die dolosse ontaard in vonk-proppe
wat mekaar begin jaag in
die hippodroom van my kop
hulle begin lyk na artisjokke op hitte
as daar maar ‘n hofmaarskalk was
wie ek kon roep wat in die bresse kon tree
maar, nee, ek is op my eie

VI

ek gaan skaar my by die vrouens in die harem
en vra hulle of hulle ook so verlei word deur die Woord?
nee sê hulle, maar hoekom probeer jy
nie ‘n ontwapeningsveldtog nie?
haai, ek het nooit daaraan gedink nie
die geheim van hierdie driftige aanteel van woorde
deel dieselfde lankmoedigheid aanwesig in stalaktiete
‘n stille, onopmerklike groei
hoe kan ek hulle nou ontwapen?
wat is die wapen wat ek so voel op my geteiken is?
ek gee moed op
ek gaan slaap met ‘n elle-lange hanglip
en hoop die aand gooi nie
nog dolosse in my half-wakker drome nie
al wat ek kan doen is om op my tande te byt
en te hoop niemand sien my dolsinnige gryns raak
een greintjie van ’n kyk in my rigting
sal jou in ‘n sout-pilaar verander
al hoe ek hiermee leef is om deur die dag so
hiperbeleef as moontlik te loop
iewers sal die gedigte se gedrag raffineer
met my invloed
en die harlaboerla van hulle ledemate en tonge
tot orde roep
en soos die moeder-owerste sal ek hulle
siele deur ‘n ring kan trek
so netjies en heilig sal hulle voor my staan

VII

teen hierdie tyd sal die gedig
die stadsvryheid verdien
en vry deur die strate wals
en enige kafee inloop en homself knuppeldik
aan die atjar eet
die burokrate sal met nuut-ontdekte ywer
die verse se skoene poets
en die posmeester sal teen geen tarief 
die digkuns aan elke lid van die wêreld pos
nodeloos om te sê
die poësie sal ‘n groot hawiksneus groei
en homself luid op die skouer klop
en trots elke kruiwa vul met leestekens en sillabes
en die bakstene en sement vervang met dit
wat meer sin maak
met die gedig se pralery
sal hy homself oortuig dat hy
skuiling en warmte kan bied vir die massas

 - uit dolosgooier van 'n gedig, Lara Kirsten

No comments:

Post a Comment