Monday, June 22, 2020

die visioenêre waatlemoen breek in stukke

die visioenêre waatlemoen breek in stukke
op die geteisterde teer
die agterdogtige akkedisse skarrel opeens
in wye sirkels om die sanikende stroopspatsels
die eenoog eekhoring trippel in pastorale parentese nader aan die soete mise-en-scène
die merkwaardige mites probeer hard om nie
onder die klas van buitensporige bewerings
gekatalogiseer te word nie
dit is so 'n onbeduidende onreg wanneer
die argetipiese aksies deur die peremptoriese patriarge en burokratiese boelies so waansinnig weggevee word
die parate pruimedante en pluimende proteas
omsingel die fanatiese foonaanbidders en
hulle kettingvormende kak
en smyt hulle die suigende seestrome in
dit is te verwagte dat die duistere dwingelandy 
waaronder ons onsself en ander sit
die yslike eina veroorsaak waaraan die weemoedige wêreld ly 

 - Lara Kirsten

No comments:

Post a Comment