Thursday, November 21, 2013

Vir Krotoa

sy het vele warmgebakte kranse ontdek langs die woude
het hul gevul met klippe, voetspore en uitgekapte wense
die dou lek sy vroeg-oggend van die boegoeblare
en vee haar wange met die sagte son wat deur die skeure breek
sing sy alomheen die liedere wat resonant oor die vlaktes aanrol
'n vrou soos hierdie mag nie stilbly

hoor hoe haar stem deur klip en geskiedenis breek
sien hoe sy vrouwees bevry
deur met grond liefde te maak
in haar skyn die hoop
wat nog by ons mense spook

en so bly sy opstaan, 'n ware vrou,
gevul met drome en verwarring
sy doen haar daaglikse pligte
met grond onder haar naels, borduur sy die kontinente aan een
sy is alleen, net sy en haar haar tong
praat sy vir die onthalwe van ander,
maar nooit vir die onthalwe van haarself
prinses die een dag, 'n pion die ander,
haar identiteit verskeur en verkrag
'n vrou soos hierdie word maklik misverstaan

hoor hoe haar stem deur klip en geskiedenis breek
sien hoe sy vrouwees bevry
deur met grond liefde te maak
in haar skyn die hoop
wat nog by ons mense spook

en so het sy oor die berge met haar aardsvlerke gevlieg
nakend soos net die veld en die lug daarvan hou
leerken sy die laaste helder paaie van oorlewing
dra vuur en klippe aan om die laaste vestiging te bou
waar lug nog diep ingeasem kan word
en grond diep gegtrap kan word waar groen lewe
uitrys uit water en klei en 'n nuwe wêreld aanbreek

hoor hoe haar stem deur klip en geskiedenis breek
sien hoe sy vrouwees bevry
deur met grond liefde te maak
in haar skyn die hoop
wat nog by ons mense spook

soms verloor sy haar kop, maar nooit haar hart
sy druk haar lippe en bors ferm teen die aarde
voel die vibrasie van minerale krag
grond is bly om te voel hoe diep hierdie vrou haar spoor trap
'n vrou soos hierdie kan nie stilbly
in haar skyn die hoop
wat nog by ons mense spook

 - Lara Kirsten