Sunday, April 19, 2015

Onklaar

In die Woordbybel op graffiti-banke
waarop kinders, koppe bymekaar,
jou ontleed,
is jy "nog nie", " verkeerd".

Hier
waar mens bloei as jy jou raaksny,

is jy
ek:

onklaar,

nog nie klaar nie

en verkeerd.

 - Alvené Appollis-du Plessis

Saturday, April 18, 2015

die Groot Gedig hy is oppad

die Groot Gedig hy is oppad
hy is al lankal oppad
dis net jammer dat hy nog nie gearriveer het nie
ek hoor hom aankom al vir jare lank
maar hy kom net nie nader nie
die Groot Gedig is definitief oppad in my rigting
ek sien hom sidderend op die horison
hy is aan’t beweeg
maar hy is nog so ver
hy is luid en vol self-vertroue – dit kan ek hoor
hy tril met dawerende geskal
hy is nie skaam vir die atmosfeer en wêreldtoestand
sy treë is groot en kordaat
maar hoekom wil hy net nie nader kom?!
sy stem is helder soos ‘n klok
maar geen woord hoor ek van hom nie
die Groot Gedig hy is oppad
ek voel sy warm asem teen my haakskeen
my lyf is reg vir hom 
trots en fier loop ek deur elke dag
hoop sterk dat hy my sal raaksien
die Groot Gedig weet van my
ek weet dit
ek voel dit
ek dink die grootsheid van die Groot Gedig
hou hom terug
keer hom om te vinnig
sy verskyning te maak
ek vermoed dit is een moerse Groot Gedig
want hy vat regtig sy tyd
hoe kan ek nou krom staan en moed verloor?
dit is dalk die dag wat hy sy verskyning gaan maak
en my dan gaan mis kyk
moenie opgee 
staan gereed 
vir die Groot Gedig

 - Lara Kirsten

Thursday, April 16, 2015

“Somernagdroom”

As ek kon,
sou ek wegkruip
tussen die metafore
van my gunsteling boek

waar lewe en dood
op mekaar se drumpels staan, en

oop deure,
toe deure is;

ek sou soos Gabi
vir Henry
met mankbeen en panfluit,
sigaret in die mond,
kies

en wens hy wou my intrek,
weer uitblaas,

verslaaf aan my bly

soos aan nikotien.

 - Alvené Appollis-du Plessis

Wednesday, April 15, 2015

waar ek opreg eg ek is

skryf skryf SKRYF
want dit is waar ek
opreg
eg
ek
is
my gedigte verval nie in
valse glimlagte en senu’agtige laggies nie
ek hou so van hulle onopgesmuktheid 
ek beny hulle vermoë om
onnodige babbel tics en stopwoorde te vermy
hulle is dikwels meer ek as ek
niemand anders behalwe my gedigte
mag woorde in my mond sit!

 - Lara Kirsten

Monday, April 6, 2015

Conversations

We laughed
a lot

often at each other
as we spoke –
endlessly –
of life,
its glory,
its grace
and its gutsy kindness
in these gutless times.

We laughed
less

at each other
as we spoke
too often in our minds

imprisoned by these errors
that keep you company.

 - Alvene Appollis-du Plessis