tussen die lugholtes van my ribbes
dit is daar waar ek wil wees
daar waar kontinente van klank uit
my keel en vingers vloei
en ek aan 'n hele nuwe aarde geboorte gee
daar waar die magtige digkuns
die ritme van die dag bepaal
ek voel alewig die klop in my keel
die nimmereindigende spits van my ore
ek staan op aandag
gereed vir die magtige vers
wat met volbloedige vlerke op my palms gaan land
ek grawe in die see-skulpe op soek
na die waarheid van die woord
ek krap onder die volstruispoot se toonnaels
honger vir die metafoor wat alle metafore sal oortref
die woorde lê soos spook-spore
op die skadu's van die nag
weier om gesien of gevang te word
en tog, soos klein swart poppie-saadjies
kom lê die
voortdurende wilskrag van
die poësie
tussen
die
lugholtes
van
my
ribbes
as die woord kom
weet ek hoe verruklik die lettergrepe soos
ryp snye avokado op my tong sal smelt
laat ek diep binne die greep van die letter lê
maak my lam, maak my onbewus,
maak my vlieg, maak my lag,
maak my ril
en
maak my vry
- Lara Kirsten
No comments:
Post a Comment