Friday, March 7, 2025

stil lewe

ek het weer so siek geword in my longe
slapelose nagte
verstarde en moeë dae
bolyf en borskas so seer

vandag so laagtepunt bereik
geen fisieke of kop krag

ek sien niks veel raak nie
ek is in so sieke dwaal
dit wat ek wel sien lyk faal

      maar
daar was
een     enkele
objek
wat my aandag verwonderd vasgehou het:

'n leë
consol
glas pot

die manier hoe sy net daar so     geruisloos
in die oggendlig staan en      blink in
haar glassigste glassigheid

ek sit op die vloer en bly kyk en kyk na haar
'n eenvoudige glas pot

ek hoef nie eens aan haar te vat nie
sy is werkliker as werklik
meer betroubaar as my hart en my kop
sy die hoopvolste stil lewe in
my bestaan vandag

die poëtiese misterie:
hoe verruk ek staan teenoor
hierdie
     harde
         helder
              deursigtige
passieloosheid van glas

 - Lara Kirsten

No comments:

Post a Comment