Wednesday, September 9, 2020

Só lyk genade

As die son eers by my venster inloer
en die duiwe langsaan koer,
weet ek:
die Jirre het my wraggies wéér gespaar.

Dis my kroeskop kam
en die ketel kook
en die nagmerries van gist’raand
met Colgate wegjaag:
smile a little, they say.

Dis ʼn matter van kindmaak,
grootmaak,
geldmaak,
repeat
en al die katjies en hondjies
en kindertjies oppas

tussen parlement-speel,
doodspeel
en safe kap
in ʼn land van surviving the law,
the lies
and the poets.

As die maan eers oor die vloer dans
en die rondloper ginger kom groet,
dan weet ek:
die Jirre was my wéér genadig
en my kroeskop kan maar kussingskop

en rus.

- Alvené Appollis-du Plessis

No comments:

Post a Comment