Wednesday, July 8, 2020

tussen pers vygies

ek sit op 'n skilferende creosote bankie in Nature's Valley
die goue gedenkplaatjie op die rugkant lees:
Die Muller familie - 4 geslagte

soos my tone oopsprei tussen die pers vygies
sing ek 'n sagte lied
ter herinnering aan die Mullers

my oog korrel na 'n by wat holomhoog 
in 'n bos stuifmeeldrade skrop en suig 
en krap en beur en stoot 

ek gaan af op my knieë
- ek self holomhoog - 
om die aksie van naderby te bekyk

hoe langer ek kyk 
hoe meer blomme en bye merk ek op
bye wat verwoed mekaar uit blomkele stoot

groot korrels geel stuifmeel 
klou taai
aan spartelende beentjies

instinktiewe verpligting
vreugde
oorlewingswaansin?

wat dryf die bye tot hierdie 
onophoudelike soeke, versameling, korwe bou 
en die magiese heuningalchemie?

 - Lara Kirsten

2 comments:

  1. Baie goeie gedig. Die metafore is perfek. Welgedaan, Lara!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Selwyn, dankie vir jou komplimente!
      Groete
      Lara

      Delete