in die skemering van
die verlies
is my keel nog troebel
van die wil-wil trane
die dae sonder jou hang soos
sugte aan die deurkosyne
dit is asof my selle nou weet
dat ek nie aan jou kan klou nie
iets in my het laat gaan
die hunkering na
jou fisiese aanwesigheid
het
so ietwat
bedaar
die verlies
is my hart stil
vlietende beelde van jou
beweeg in my geestesoog
soos wolke in die wind
oralste lê leegtes van
jou nie-hier-wees
ek kyk met 'n hartseer gelukkigheid na
die reën wat op die pompombome val
die aarde juig oor die breek van die droogte
maar my hart klem met die wete
dat jy nie meer die nat-aarde-reuk
deur jou trillende neusgate insuig nie
in die skemering van
die verlies
staan ek mymerend in
die diep rivier wat
die onafwendbare verhale
van die lewe en dood om
my ledemate fluister
- Lara Kirsten
No comments:
Post a Comment