V
die dolosse ontaard in
vonk-proppe
wat mekaar begin jaag in
die hippodroom van my kop
hulle begin lyk na artisjokke
op hitte
as daar maar ‘n hofmaarskalk
was
wie ek kon roep wat in die
bresse kon tree
maar, nee, ek is op my eie
VI
ek gaan skaar my by die
vrouens in die harem
en vra hulle of hulle ook
so verlei word deur die Woord?
nee sê hulle, maar hoekom
probeer jy
nie ‘n ontwapeningsveldtog
nie?
haai, ek het nooit daaraan
gedink nie
die geheim van hierdie
driftige aanteel van woorde
deel dieselfde
lankmoedigheid aanwesig in stalaktiete
‘n stille, onopmerklike
groei
hoe kan ek hulle nou
ontwapen?
wat is die wapen wat ek so
voel op my geteiken is?
ek gee moed op
ek gaan slaap met ‘n
elle-lange hanglip
en hoop die aand gooi nie
nog dolosse in my
half-wakker drome nie
al wat ek kan doen is om
op my tande te byt
en te hoop niemand sien my
dolsinnige gryns raak
een greintjie van ’n kyk in my rigting
sal jou in ‘n sout-pilaar
verander
al hoe ek hiermee leef is
om deur die dag so
hiperbeleef as moontlik te
loop
iewers sal die gedigte se
gedrag raffineer
met my invloed
en die harlaboerla van
hulle ledemate en tonge
tot orde roep
en soos die moeder-owerste
sal ek hulle
siele deur ‘n ring kan
trek
so netjies en heilig sal
hulle voor my staan
VII
teen hierdie tyd sal die
gedig
die stadsvryheid verdien
en vry deur die strate
wals
en enige kafee inloop en
homself knuppeldik
aan die atjar eet
die burokrate sal met
nuut-ontdekte ywer
die verse se skoene poets
en die posmeester sal teen
geen tarief
die digkuns aan elke lid van
die wêreld pos
nodeloos om te sê
die poësie sal ‘n groot hawiksneus
groei
en homself luid op die
skouer klop
en trots elke kruiwa vul
met leestekens en sillabes
en die bakstene en sement
vervang met dit
wat meer sin maak
met die gedig se pralery
sal hy homself oortuig dat
hy
skuiling en warmte kan
bied vir die massas
- uit dolosgooier van 'n gedig, Lara Kirsten