Selfs wanneer die dae op hul ylste is
en die skaduwee van menswees
soos donderwolke op my skouers pak
en die gehunker na die dood soos 'n draadloos
in my ore blêr,
is daar hoop in die stomende beker koffie
waarom ek my vingers vou
en die oplig van die kam
waarmee ek saggies die koeksels uit my hare haal –
soos my ma gemaak het toe ek klein was.
Ek weet daar is hoop
in die botter op kleinmens-toebroodjies smeer
en appels en piesangs netjies langs die jogurt pak
en die saamsing in die kar
tussen af-verkeersligte deur Stanford
voor ek rooilip-soentjies op voorkoppies plak.
Daar is hoop in die digkuns voor die skryfbord
en die tienerbreine, -bekke, -vrae wat lomp oor my drumpel trap
en net 'n glimlag van juffrou soek.
Ek weet daar's hoop in die opkap van die ui
en die afmeet van die rys
wat meer as net my hande besig hou.
Daar is hoop in slaaptyd stories
en in die aandgebed,
selfs as ek nét dankbaar is
vir die grys sokkies aan my voete
en dat die donderwolke op my skouers
nie vandag gebreek het nie.
- Alvené Appollis-du Plessis