Ek skryf hierdie gedig vanuit my ruggraat
Ek lei in elke sillabe vanuit my werwels
Laat die metafoor haarself om die volbloedige kolom weef
In tollende kolke ontwaak die oer-pols
Ek buig agteroor in ‘n wyduitgestrekte boog
Totdat my mond uitbundig oopval
En die son nie kan help om reguit af te duik
Na die kernsenuwee van my ruggraat
‘n Son begin te spruit tussen elke rug-sinaps
Die strale stroom met vaartbelynde spoed
Deur al die donker en newelagtige begrensinge van my selle
Ek buig vooroor met my knieë en voorkop al soenende die aarde
Innerlik omhels ek hierdie sonkragtige ontploffing
Voordat dit uit my vel peul en ekstaties my digterlike bedoelinge verblind
Ah, jy kan letterlik die letters sien afdruppel teen my rug
Hulle is altyd daar
Herinner my aan my digterlike ruggraat
en om sagkens saam met dit te beweeg en nie teen dit nie
In die gedurige giet en hergieting, ontwyk die gedig voltooiing
Probeer heeltyd daai perfekte natuurlike buiging te vind
Vanwaar elke vers kan uitstrek
En uitryk na jou soos warm ledemate
Om jou te omvou met waaghalsige ruggratige gretigheid
- Lara Kirsten