Thursday, March 26, 2015

my voete wil die oneweredigheid van die lewe voel

jinne maar die beskaafde wêreld
het soveel gelyke oppervlaktes
elke gebou se staan-en-
werk-area perfek waterpas
huise biblioteke teaters
restaurante hospitale gallerye
winkels poskantore tronke hotelle
bang vir gly die afgrond in
elke stukkie grond so gesiviliseerd uitgelê met
baksteen en sement
teel en houtplank
niemand mag moontlik trip en val nie

my lyf smag na die bolling 
skerpte en hoekigheid
van rots
die minerale koelte en sonnige hitte
van steen
die modder en gritserigheid
van grond
ek kyk na die onderkant van my voete
kyk stip na die konkawe sool wat
net mooi pas oor die ronding van klip
en sekuur spring op die duine van sand
my voete raak nou regtig moeg vir hierdie 
alewige platvloersheid van bestaan
gee my die golwende heuwels
ongerepte klipkoppies en non-apologetiese kranse

daar is senuwees in my sole wat
die dorings en die elemente wil voel
my voete weier om te ontaard in
‘n luie bondel vel en
onuitgedaagde metatarsale bene
my voete wil die oneweredigheid van die lewe voel
agge nee! my hande en oë is so ongestimuleerd in
hierdie skoon-en-platgeskuurde beskawing
hulle hang leweloos aan my lyf met
geen doel om te klim en gryp
en klou en klouter nie
alles is net te netjies afgewerk
en vaart-en-voet-belyn ontwerp
tot vervelens toe geingenieur en geargitekteer
los julle passers en klip-malers!
laat die klippe in
hulle rondbonkigheid met rus!

 - Lara Kirsten