kern
daar skuil ‘n lus in die dieptes
daar skuil ‘n lus in die dieptes
wat stil-stil wag - dormant uitbundig
dit is heilspellend hoe die vonk
begin tril met die afwagting van die koms
van die kreatiewe tornado
die grond is ryk
kyk hoe giet ons die diep-versonke metale
uit die premordiale smeltkroes
my klei-lyf resoneer met die vulkaniese uitbarsting
met hierdie bloed wat nie ophou vloei
bons die polsering van die dreigende feesviering
die kruine van die golwe hang vir enkele oomblikke
langer in die silwer skyn van die son
my hare staan orent
van die stemme wat alom my kring
so vol lewe is organika
so baie golwe in elke dag
so veel kwiksilwer sparteling in die brein
die soeke na versadiging ken geen einde
die hart bly kolk al kom die niet teen die deur geklop
die grond word koud in die winter
die spoor word weggewaai
maar die lewe bly tril
die oer word oerer
die inkantasies word meer kontrapuntaal
en die ledemate word sneller
in hierdie dae wat so vlugtig vlerke groei
die elemente is ongenaakbaar
hoe hulle die vel verteer
tog bly die pols diep en sterk
die wilskrag is onverskrokke
in die stryd teen die skaamte
teen die vrees
teen die vlees
teen die donker
my rugstring ontdooi elke oggend
en waaragtig, dis die vlerke wat aanhou kriewel
tot in die premordiale kern
van sensasie van die embrioniese duister wat
gelukkig genoeg keel het
om te kreun met die moeds-wil van vlieg
- Lara Kirsten